Illse Roos is op 21 Julie 2010 op ’n spesiale manier vereer vir haar besonderse geaardheid en warm persoonlikheid. Sy het ’n mooi fluweelrooi roos ontvang wat na haar vernoem is.
Ludwig van Ludwig’s Roses het dié roos aan Illse oorhandig en gesê dat dit “die perfekte roos is vir ’n roos”.
Illse het dié ere-toekenning met grasie ontvang en haar roos opgedra aan POWA ter ondersteuning van vroue wat mishandel word. “Vroue is die hoekstene van die samelewing en hulle moet respekteer word,” het Illse gesê.
POWA het Illse, Finesse en Ludwig’s Roses bedank vir hulle ondersteuning en het ook die publiek bedank vir die bydrae wat hulle gaan maak as hulle dié roosplante by Ludwig’s Roses koop. Ludwig het beloof om vir elke roosplant wat verkoop word R3,00 aan POWA te skenk.
Venessa Schoeman, redakteur van Finesse, het gesê dat dit vir die tydskrif belangrik was om iemand te kies wat net soos ’n roos, vroue op ’n spesiale manier aanraak.