40 woorde: nuwe boek en welsynsprojek uit die hart van Susan Coetzer!

Die bekende skrywer, aktrise, skilder en motiveringspreker, Susan Coetzer, het pas haar splinternuwe boek en projek bekend gestel met die naam: 40 Woorde.

Dié  skrywer se Vir die Siel- boeke (Oros vir die Siel, Custard vir die Siel en All-bran vir die Siel) het al gesamentlik byna 70 000 eksemplare verkoop en hou aan om duisende vroue daagliks te inspireer.

40 Woorde is ʼn inspirerende geskenkboekie en bevat die 40 hartswoorde wat Susan se lewe nog die meeste aangeraak en beïnvloed het. Elkeen van hierdie woorde word geïllustreer met ‘n skets wat Susan self geteken het. Die boek beloof om elke vrou te help om onmiddellike inspirasie te kry, wanneer sy dit nodig het, waar ookal sy is.

Die projek is egter meer as net ʼn boek. Dit is ook ‘n poging om ‘n verskil in die lewens van behoeftige gesinne in ons land te maak.

Die oorspronklike veertig sketse is in duursame rame geraam en word tans te koop aangebied. Weldoeners kan tot 2 Januarie 2012 op haar webtuiste, soetgoedvirdiesiel.co.za, ‘n bod insit en so ‘n bydrae maak vir ‘n goeie doel en sommer ook met ‘n kunswerk van dié bekende vrou in hul huise spog.

Die eenvoudige handsketse illustreer sielswoorde soos liefde, vrede en genade, en sal tot elkeen se hart spreek en in elke huis tuis wees. Elke skets is ook deur Susan onderteken en is meer as R500 elk werd.

Susan is die nasionale verteenwoordiger van SAVF Famnet, aan wie die opbrengs van die kunsverkope geskenk sal word. SAVF Famnet lewer ‘n voorkomende diens vir die bevordering van ouerskapsvaardighede, die verbetering van gesinsveerkragtigheid en die bewaring van die gesin. Dié verdienstelike organisasie bied ondersteuning aan werkende ouers met gereelde seminare oor ouerskap en ‘n kwartaallikse tydskrif met aktuele inligting oor hierdie onderwerp.

Ouerskap en gesinne lê Susan na aan die hart en dit is juis waarom sy haarself as beskermvrou van Famnet beskikbaar gestel het. Sy is ‘n omgeemens wat lief is vir haar gesin, die lewe, God en sy skepping. Sy gee van haarself deur haar skryfwerk en nou ook deur haar kuns.

40 woorde uit die hart van Susan Coetzer
9781770313149

R69.95
Beskikbaar by voelgoedwinkel.co.za

www.soetgoedvirdiesiel.co.za